Dis Maandagoggend. Die naweek was heerlik, dalk bietjie te kort. Soos jy na die deur toe stap, begin gedagtes van die week deur jou verstand flits. Dit voel dalk oorweldigend.
Maandag is nie 'n goeie dag om die week vorentoe in oorweging te bring nie. Die beste tyd hiervoor is laat Vrydag of vroeg Saterdagoggend. Oorweeg die week terwyl dit nog vars in die geheue is.
Hoe ver is jy van jou doelwitte af? Wat is jou doelwitte? Sou jy nie konkrete doelwitte hê nie, is hierdie oorwegingstyd die beste om ten minste een neer te skryf. Met hierdie doelwit, maak seker jy skryf neer wat jy wil bereik en skryf dan neer wat die eenvoudigste volgende stap sal wees. Nou vir die volgende stap : die projeklys. Stel 'n lys op van als wat jy dink jy moet doen. Met elke item skryf jy neer wat presies jy wil bereik en wat die volgende stap sal wees.
Jy het nou al 'n goeie idee wat in jou verstand en in jou lewe aangaan. Volgende is om al die volgende stappe te skeduleer. Hierdie skedule moet jy op 'n veilige en maklik bereikbare plek gebêre word. Dit sal dalk ook help om hierdie take volgens konteks te rangskik. Al die oproepe wat jy wil maak, kan jy byvoorbeeld op jou telefoonlys sit. Al die e-posse en / of ander take wat jy die internet moet gebruik, kan ook op een lys kom. Ander werk wat jy 'n lessenaar of 'n rekenaar voor nodig het, kom op 'n ander lys. So stel jy subtaaklyste op wat meer sin maak in 'n sekere konteks.
Marinus Opperman